November 2010

Gerrit Brand

Draadloos RSA (7): Regstelling


In Suid-Afrika (SA) geld vir 16 jaar al ’n beleid van ‘regstellende aksie’ (RA) (‘affirmative action’ of ‘positieve discriminatie’) – diskriminasie op grond van ras, geslag en (nie-)gestremdheid [handicap] om (die gevolge van) voorafgaande onbillike diskriminasie reg te stel. RA neem verskillende vorme aan. By aanstellings word byvoorbeeld voorkeur aan aansoekers uit die ‘aangewese groepe’ (swartes, vroue en gestremdes) verleen, om sekere ‘teikens’ (minimum-persentasies van ‘voorheen benadeeldes’) te probeer haal en sodoende penalisering vry te spring. In die staatsdiens sien die regering self toe dat die teikens gehaal word – al beteken dit dat, in die afwesigheid van geskikte aansoekers uit die aangewese groepe, sekere poste vakant bly. Op sportgebied word gestreef na spanne [ploegen] wat die land se rassesamestelling weerspieël.

Dieselfde geld die toekenning van studiebeurse en toelating tot gesogte studierigtings. Sommige instellings vereis, as voorvereiste vir toelating, beter skoolpunte van ‘voorheen bevoordeeldes’ as van ‘voorheen benadeeldes’. Soms word selfs binne ’n aangewese groep verder onderskei: in die generiese kategorie ‘swart’ word van ‘Indiër’-aansoekers beter uitslae as van ‘bruines’, en van laasgenoemde beter as van ‘Afrikane’, vereis.

Terme wat met RA oorvleuel, is ‘transformasie’ en ‘swart ekonomiese bemagtiging’ (SEB).

Hoe my mening verander het

Self was ek eers ’n voorstander hiervan. Ek glo steeds dat, waar oor ’n lang tyd teen [tegen] groepe gediskrimineer is, geregtigheid nie gedien word deur bloot die diskriminasie te staak nie, want die benadeeldes het ’n agterstand om in te haal. Die einde van rassediskriminasie beteken byvoorbeeld nie almal is voortaan in dieselfde bootjie nie. Diegene wat swakker onderwys ontvang het, sekere beroepe nie mog beoefen nie, in beperkte mate eiendom kon besit en weinig politieke inspraak gehad het, het dit moeiliker om geleenthede te benut, hul potensiaal te verwesenlik en ’n sosiale bydrae te lewer. ’n Vorm van positiewe regstelling is nodig. Daarom het ek gedink RA op grond van ras, geslag en gestremdheid (voortaan: RGG) is geregverdig.

Ek dink nie meer so nie. Ek erken nog die noodsaak van aktiewe regstelling, maar meen nou dis ’n fout om dit op RGG-kategorieë te baseer. Die argumente ten gunste daarvan oortuig my nie meer nie. Diskriminasie op grond van RGG word in die SA Grondwet tereg as prima facie ongewens bestempel. Die bewyslas lê by diegene wat vir ’n uitsondering hierop pleit. Hoewel kritici van RGG-gebaseerde RA dus nie alternatiewe RA-modelle hoef te ontwikkel nie (nes [net zoals] die verdediging in ’n regsgeding by ’n onskuldigbevinding nie die skuldige hoef te identifiseer nie), wil ek, nadat ek die argumente krities oorweeg het, tog alternatiewe voorstel.

Die besware wat ek teen RGG-gebaseerde RA opper, fokus nie op die nadele daarvan vir ‘voorheen bevoordeeldes’ nie. Uit hul (en dus my) perspektief ís ’n saak daarteen uit te maak, maar wat ek betoog, is dat, veel meer as die bevoorregte minderheid, die benadeelde meerderheid, wat veronderstel is om voordeel uit RA te trek, die ergste daardeur benadeel word. Die gewigtigste beswaar teen RGG-gebaseerde RA is nie dat dit ‘omgekeerde rassisme’ is nie, maar dat dit die reeds benadeeldes verder benadeel.

Verskillende argumente word vir RGG-gebaseerde RA geopper. ’n Klassifikasie kan dus verhelderend wees. Ek doen dit aan die hand van geregtigheidsbegrippe en die daarmee verbonde etiese benaderings.

Retributiewe geregtigheid

Een geregtigheidsbegrip waarmee RGG-gebaseerde RA verdedig word, is retributiewe (vergeldende) geregtigheid, wat met ’n deontologiese oftewel pligsetiek saamhang. Die klem val op reg en plig, en ’n abstrakte morele orde. Toegepas op RA is die argument dat mense wat op grond van RGG benadeel is, verdien om, op grond van dieselfde kategorieë, in dieselfde mate bevoordeel te word. Wie dit konsekwent deurvoer, sal ook die keersy omskryf: dat diegene wat op grond van RGG bevoordeel is, op grond daarvan benadeel behoort te word. Hierdie [deze] konsekwensie word selde uitdruklik verwoord, maar is soms implisiet aanwesig.

Gesien dié logika kan gevra word of RGG voldoende kriteria is. Immers, nie almal in hierdie groepe is ewe veel benadeel nie. Party swartes – byvoorbeeld regeerders van voormalige sogenaamde swart ‘tuislande’, en swart polisielede wat die bevrydingstryd gehelp onderdruk het – het met die vorige regime saamgewerk en materieel voordeel getrek. Onder die meerderheid wat benadeel is, het sommiges meer as ander gely. Daar was ook wittes wat teen apartheid geveg het en veel moes opoffer. ’n Konsekwente toepassing van retribusie sou vereis dat die mate van bevoordeling wat mense toekom vir elke individu bereken word. Dit sou tot absurditeite ly. Dink maar daaraan dat Suid-Afrikaners nie net deur apartheid benadeel is nie. Hoeveel skuld watter [welke] Britte nog aan watter Boere, en hoeveel mag watter Sotho’s nog van watter Zoeloes opeis?

Omdat verdienste in retributiewe argumente ’n rol speel, kan dit ook ’n ander vorm aanneem. Voorheen benadeelde werksaansoekers word soms op onregverdige wyse nie aangestel nie – byvoorbeeld wanneer hul curriculum vitae nie hul vermoëns weerspieël nie. Immers, die feit dat iemand uit ’n swak skool in ’n krotbuurt sy finalejaar-eksamen net-net slaag, kan op meer talent, toewyding en deursettingsvermoë dui [wijzen] as bogemiddelde prestasie deur iemand uit ’n top skool in ’n welvarende woonbuurt. Soms veroorsaak doodgewone vooroordeel ook dat verdienstelike kandidate misgekyk word. Moet iets dan nie gedoen word om te sorg dat verdienstelike aansoekers uit die aangewese groepe die kans kry wat hulle toekom nie – byvoorbeeld deur te vereis dat ’n sekere aantal mense uit hierdie groepe aangestel word? Werkgewers het dan geen keuse nie as om sulke kandidate te begin raaksien [opmerken].

Is dit egter die regte oplossing? Daar is beursinstansies wat dit regkry om belowende studente wat swak op skool presteer te identifiseer en ondersteun sonder om hul ras of geslag te oorweeg. Growwe [inexacte] groepsdefinisies is ’n te stomp mes om hierdie knoop mee deur te hak. En waar werklik van vooroordeel in spesifieke gevalle sprake is, is die arbeidshof mos [toch] die aangewese instelling om te nader.

In die Christelike teologie speel retributiewe geregtigheid ook ’n rol. Anselmus van Kantelberg het geargumenteer dat die mens, aangesien hy God se eer aangetas het, óf genoegdoening moet verskaf, óf deur God gestraf moet dra. God wil nie die mens straf nie, en die mens kan nie voldoende genoegdoening aanbied nie. Daarom word God mens om dit namens ons te doen. Later is hierdie gedagte deur onder andere Calvyn oorgeneem en aangepas.

Baie [veel] teoloë staan krities hierteenoor. Dat God op grond van ’n abstrakte morele noodsaak die sonde móét vergeld, strook nie met die Goddelike genade wat in Christus openbaar is nie, en stel God ondergeskik aan ’n bo-Goddelike orde. Anselmus en Calvyn se versoeningsteorieë is egter nie sonder ’n waarheidsmoment nie. Hulle verwoord ’n aanvoeling dat versoening – die herstel van gebroke verhoudings – nie goedkoop is nie, maar iets kos. God ly eerder aan die verhouding as om dit op te hef en die mens te laat vaar. Daarmee word die onverbiddelike morele orde egter juis deurbreek! Geregtigheid kan dus nie in retribusie vertaal word nie.

Distributiewe geregtigheid

’n Ander geregtigheidsbegrip waarmee RGG-gebaseerde RA verdedig word, is distributiewe geregtigheid, wat met ’n konsekwensialistiese etiek (byvoorbeeld utilitarisme – die maksimum geluk vir die maksimum aantal) saamhang. Regstelling beteken dan herverdeling, en geregverdig die realisering van ’n lofwaardige doelwit: gelykheid. SA is die ongelykste samelewing ter wêreld. Die kloof tussen (meestal wit) rykes en (meestal swart) armes beduiwel [‘ontwricht’] groepverhoudings, stabiliteit en veiligheid. Dit tas menswaardigheid aan: volgens sommige kenners korreleer ’n lae lewensverwagting sterker met ’n lewe aan die onderkant van ’n ongelyke samelewing as met objektiewe armoede.

Christelik-eties volg die gelykheidsideaal uit die imago Dei, die oortuiging dat mense beelddraers van God is. Mense se waardigheid berus nie op hul hoedanighede of prestasies, of die ‘waarde’ wat hulle vir hulself of andere het, nie – maar op die imago Dei in hulle. Hierin is almal gelyk – iets waarteen mensonterende ongelykheid skreeu.

Uit die noodsaak van herverdeling volg egter nie dat dit op RGG moet berus nie – al is die meeste armes byvoorbeeld swart en die meeste rykes wit. Die korrelasie tussen velkleur en sosio-ekonomiese status is nie absoluut nie, en vir ’n konsekwensialistiese etiek berus die noodsaak om armes te bemagtig nie op dié se RGG-status nie, maar op hul armoede. Hoekom [waarom] nie gewoon vasstel wie hulp die nodigste het en hulle help nie? (Hoekom skape se pote tel en deur vier deel as jy die skape self kan tel?)

’n Verwante konsekwensialistiese argument vir RGG-gebaseerde RA is dat dit in landsbelang is om die oorvleueling van ras en ekonomiese status op te hef omdat rassekonflik toeneem wanneer klas en ras sterk oorvleuel. Dan word egter nie meer na ’n gelyker samelewing gestreef nie, maar na ’n herskikking van die bo- en onderklas se kleurskakering – die spreekwoordelike rondskuif van sitplekke op die Titanic. Die fundamenteler probleem is ongelykheid. Namate dit verminder, vervaag die ras-klas-oorvleueling ook.

Boonop is RGG-gebaseerde RA teenproduktief omdat dit ongelykheid juis aanhelp. Die rassefokus veroorsaak dat klas misgekyk word – die verandering in die bevoorregte klas se kleurskakering verbloem blywende ongelykheid en skep ’n nuwe (nie-rassige) elite wat hul eie kollektiewe belange teenoor die uitgeslotenes (oorwegend swart) bevorder. ’n Klein aantal uit die aangewese groepe word oor en oor ‘bemagtig’, maar die meerderheid bly krepeer.

Uit die feit dat, naas bekwaamheid, ook RGG ’n rol by staatsdiens-aanstellings speel, volg dit verder logies dat die mees geskikte kandidate nie altyd aangestel word nie. Dit lei tot verlaagde produktiwiteit en swakker dienslewering. Juis diegene wat die afhanklikste van openbare dienste is, ly dan daaronder. SA word dan ook die laaste jare deur ontwrigtende protesaksies teen gebrekkige openbare dienste geteister.

Soms word hierdie soort uiteensetting rassisties genoem: suggereer dit dat swartes minder bekwaam as wittes is? Geensins nie. As mense met groen oë, of mense wie se naam met ’n G begin, konsekwent voorkeur by aanstellings kry, sal dit veroorsaak dat die mees geskikte kandidate dikwels nie aangestel word nie, gewoon omdat, naas bekwaamheid, ’n ander kriterium ook ’n rol speel. Beteken dit mense met groen oë, of mense wie se naam met ’n G begin (mense soos ek, dus), is minder bekwaam? Klaarblyklik nie.

Restoratiewe geregtigheid

’n Derde geregtigheidsbegrip is restoratiewe (herstellende) geregtigheid: die idee dat geregtigheid in gesonde mense, verhoudings en gemeenskappe bestaan en daarom vereis dat beskadigde mense, verhoudings en gemeenskappe herstel word. Dit resoneer met die deugde-etiek, wat gerig is op karakter, op beter mense, eerder as op pligpleging of uitkomste.

SA is nie ’n gesonde samelewing nie. Geweld, korrupsie en intergroep-spanning getuig hiervan. Herstel is dus nodig. Mense se waardigheid moet herstel, en geleenthede vir hulle gebied, word om hul potensiaal te verwesenlik. Gemeenskappe en die verhoudings tussen gemeenskappe moet deur groter gelykheid herstel word. Dit korrespondeer met die teologiese motief van God se vernuwingswerk in die skepping. Daarom verkies die teoloog Christo Thesnaar die term ‘transformatief’ bo ‘restoratief’. Baie Suid-Afrikaners dink daar was ’n tyd toe alles goed was, en dat ons deur restourasie daarheen kan terugkeer. Gebrokenheid is egter deel van die menslike toestand; daarom bly transformasie altyd nodig.

RGG-gebaseerde RA is nie ’n doeltreffende manier om herstel of transformasie te bewerkstellig nie. Eerstens verneder dit mense, eerder as om hul waardigheid te herstel. Swartes, vroue en gestremdes word as gevolg daarvan dikwels verkeerdelik daarvan verdink dat hulle nie op grond van hul geskiktheid poste beklee nie. Bekwame mense uit die aangewese groepe wat deur en deur verdien om hul pos te beklee, kry gevolglik nie die erkenning wat hulle toekom nie. Mense wat nie ‘nodig’ het om op grond van hul RGG-status aangestel te word nie, word met ’n beroep daarop aangestel, en ervaar dit as vernederend.

Verder hou RGG-gebaseerde RA die rassediskoers in stand – een van die siektes waarvan SA genees moet word. Boonop vind die meerderheid swartes nie by RA baat nie, en raak verbitterd daaroor, terwyl die wittes ook daardeur benadeel voel. Rassespanning word dus aangeblaas [aangewakkerd] sonder dat enigiemand wat dit regtig nodig het voordeel trek. 

Alternatiewe modelle?

Is daar realistiese alternatiewe vir RGG-gebaseerde RA? Baie (veral meer gegoede) Suid-Afrikaners meen die antwoord is ‘meritokrasie’ – dat erkenning slegs op meriete moet geskied. Die waarheidsmoment hierin is dat dit sin maak om funksies toe te ken aan diegene wat dit die doeltreffendste kan vervul. Sulke toekennings, sou mens kan sê, het ‘meriete’.

As meriete egter aan mense self toegeskryf word, word dieselfde fout as met die retributiewe model gemaak: ’n abstrakte nosie van reg of verdienste gee die deurslag – asof mense met meer ervaring, beter kwalifikasies en so meer ‘verdien’ om met geleenthede ‘beloon’ te word. Uit ’n Christelike hoek is dit onaanvaarbaar, want Christelike geloof gaan daarvan uit dat mense niks verdien nie – alles is genade. Die rede hoekom geskikte kandidate poste moet vul, is nie dat hulle dit verdien nie, maar dat die samelewing daarby baat om deur bekwame mense bedien te word.

Wat dan anders? Een opsie is om RA aan ekonomiese beleid te koppel: ’n beleid wat sy sukses nie net aan groei meet nie, maar aan die uitwerking op die armstes. Hoewel die SA regering bereid is om enorme hoeveelhede geld aan iets soos die pas afgelope Wêreldbeker-sokkertoernooi te bestee, is daar ’n neoliberale onbereidheid om dieselfde te doen wanneer dit by die verbetering van mense se lewensomstandighede kom. Gevolglik is armoede en werkloosheid nou selfs erger as tydens apartheid. Om dít ‘reg te stel’ sou, anders as RGG-gebaseerde RA, ’n werklike verskil maak.

Ek het betoog dat die gehalte van openbare dienste deur RGG-gebaseerde RA afneem, en dat juis gemarginaliseerdes daaronder ly. ‘Regstelling’ hiervan – saam met bekamping van korrupsie en wanbesteding – sal help om wanbalanse uit te skakel.

‘Transformasie’ behoort verder te beteken, nie om na ’n verteenwoordigende steekproef van die bevolkingsamestelling op elke gebied te streef nie, maar om deur infrastruktuurontwikkeling werk te skep, die ekonomie te stimuleer, goedkoop openbare vervoer beskikbaar te stel en so meer.

Van sleutelbelang is ‘regstelling’ op onderwysgebied. Die getal skoolverlaters wat met swak letter- en syfervaardighede die arbeidsmark betree, is ’n aanklag teen die onderwysowerhede. Onderwysers word karig vergoed, en baie is swak opgelei. Mislukte eksperimente met die skoolleerplan het katastrofale gevolge. Ook naskoolse opleiding is vir min mense beskore.

Iets wat hiermee verband hou, is die taalbeleid. Engels, die vyfde grootste taal, word reeds op laerskoolvlak as onderrigmedium gebruik. Onderwysers wat gebrekkige Engels praat, onderrig in Engels skoliere wat dit nouliks verstaan – een van die hoofredes vir swak skoolprestasie. Op skool- én hoëronderwysvlak word Afrikaans steeds verder afgeskaal [gedevalueerd]. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin ‘voorheen benadeeldes’ – die enkele gemeenskap in die land met die laagste vlak van toetrede tot hoër onderwys – en word hierdeur verder benadeel. In die gebied waar hulle die meerderheid is, is al die universiteite behalwe een uitsluitlik Engels, en die enigste universiteit wat nog Afrikaans gebruik ook aan die verengels. Ander Afrikatale kom nie eens ter sprake nie.

Engels oorheers in so ’n mate die openbare lewe dat slegs ’n klein elite uit die aangewese groepe die beskikbare geleenthede kan aangryp. Waar ras vroeër die faktor was wat mense uitgesluit het, is dit nou taal. Verder word ’n belangrike vaardigheid waaroor mense beskik – die vermoë om hul eie tale te gebruik – nie erken nie. ’n Bedeling wat hierdie soort vaardighede erken en benut, sal ‘meriete’ hê deurdat dit mense self, en nie hul verkleur nie, respekteer. Die uitbou van veeltalige beleide kan ook die ekonomie stimuleer, byvoorbeeld op die gebied van taaltegnologie en die taalprofessies. Anders as RGG-gebaseerde RA, kan ’n gerigte veeltaligheidsbeleid ’n duik in ongelykheid, uitsluiting en ontmagtiging maak.

Daar is dus ander maniere om die SA samelewing te transformeer, gemarginaliseerdes te bemagtig en onregte reg te stel – maniere wat, anders as RGG-gebaseerde RA, suksesvol, moreel verdedigbaar en sonder skadelike gevolge kan wees. 

Gerrit Brand


© S T R E V E N