Juli-Augustus 2011

Draadloos RSA (8)

Sal die ‘ware’ Jood, kerk en bevrydingsbeweging asseblief opstaan?


Ek wil oor drie historiese identiteitsdebatte vertel: een deels teologies, een voluit teologies en een nie-teologies maar tog... 

Joodse identiteit

‘Waar ligt Jeruzalem?’ vra ’n kleinseun aan sy oupa in Herman van Veen se gelyknamige lied. Hierdie [deze] vraag spreek tot my, nie net omdat ek as teoloog (in navolging van Hendrikus Berkhof) meen dat Israel een van die loci in ’n Christelike dogmatiek behoort te wees nie, maar ook weens die pynlike aktualiteit daarvan. Die antwoord van die oupa op sy kleinseun se skynbaar onskuldige vraag is enersyds roerend, andersyds ontstemmend:

Waar ergens in een sjoel

met diep ontroerde stem

het 'Kol Nidrei' gezongen wordt,

daar ligt Jeruzalem. 

Waar het gezin dat sjabbes viert

in Bonn of Nottingham

zijn kippensoep in vrede eet

daar ligt Jeruzalem. 

Ook waar men ’t groot verdriet herdenkt

dat snap je later wel,

ook daar, Sam, ligt Jeruzalem,

maar niet,

maar niet in Israël. 

Daar is Joodse denkers wat hul identiteit (‘Jerusalem’) nie aan ’n grondgebied, en veral nie aan ’n staat, wil koppel nie, maar aan iets anders. Daniel en Jonathan Boyarin1 pleit byvoorbeeld, téén die begrip ‘inheemsheid’, vir ‘generasie’ (afkoms) as ‘grond’ van Joodse identiteit, en verbind dit met (in hul oë) die wenslikheid van ’n ‘diasporiese ingesteldheid’ (‘diasporic consciousness’). Hierin sluit hulle aan by aanvanklike skerp kritiek uit ortodoks-Joodse kring op die idee van ’n Joodse staat – ’n kritiek wat hom onder meer beroep op ’n teologiese oortuiging dat tuiskoms in die Heilige Land ’n eskatologiese verwagting is wat nie met politieke magsuitoefening waargemaak kan word nie.

Daar is egter ook ’n politieke motivering: ‘... if the Jews are the indigenous people of the Land of Israel, as Zionism claims, then the Palestinians are indigenous nowhere, but if the Palestinians are the indigenous people of Palestine, then the Jews are indigenous nowhere.’ Hoe Joodse (of Palestynse) identiteit gekonstrueer word – gesien die feit dat wat gekonstrueer is nie daardeur minder werklik is nie, maar juis alte werklik – het konkrete politieke, tussenmenslike gevolge.

Wanneer die identiteit van die Jode as ’n volk wat in ’n Heilige Land tuiskom eskatologies verstaan word, soos [zoals] die Boyarins aanbeveel, is een gevolg dat die Israel-Palestina-stryd ‘geontsakraliseer’ word (om ’n term van die teoloog Kwame Bediako te leen). ’n Mens sou ook kan sê: gesekulariseer, verwêrelds. Dit gaan dan nie meer oor die vraag wie ’n Goddelike aanspraak op die land het nie, maar eerder die vraag na moontlike [mogelijke] strategieë vir vreedsame naasbestaan tussen twee politieke gemeenskappe.

Die gesprek hieroor in die Joodse tradisie het ’n lang geskiedenis. In die Tenak (die sogenaamde Ou Testament) is daar spore van verskillende opvattings oor die identiteit van die Godsvolk. Daar is die Sionsteologie – met sterk resonansies in die hedendaagse Sionisme waarna die Boyarins hierbo verwys – waarin die Dawidiese koningshuis en die tempelgodsdiens vooropstaan. Die totstandkoming van hierdie denkwyse was egter van die begin omstrede omdat daar in die verhaaltradisies van Israel herinnerings was aan ’n tyd toe die volk se voorsate [voorouders] geen koning, geen tempel en selfs geen land gehad het nie, maar ’n semi-nomadiese bestaan in totale afhanklikheid van God gevoer het. Daar was ook die herinnering aan die woestyntyd, die tyd tussen die uittog uit Egipte en die intog in die Heilige Land, wat in die koningstyd deur opposisionele groeperings as ’n goue era geïdealiseer is. In die tyd ná die vernietiging van die Jerusalemtempel en die Dawidiese koningshuis, gevolg deur die Babiloniese ballingskap, het gehoorsaamheid aan die Tora, op sowel etiese as seremoniële vlak, sterk na vore getree as ’n identiteitsmerker. Met die terugkeer uit die ballingskap het die droom van ’n herstel van tempel en koningshuis weer opgevlam.

Jesus van Nasaret se profetiese verkondiging moet ook teen hierdie agtergrond verstaan word. Hy het, met gebruikmaking van elemente uit al hierdie tradisies, ’n visie gehad van die Godsvolk as inklusiewe gemeenskap wat uit die genade van God in onderlinge liefde en sorg leef. 

Die ‘ware kerk’

Ook die Christelike kerk wat uit die Jesus-gebeure ontstaan het, het deur die eeue haar identiteit op verskillende maniere probeer verstaan. Ek wil op een deel van daardie geskiedenis, te wete die Reformasie, konsentreer.

Voor die Hervorming was die selfverstaan van die Westerse kerk dié van ‘één, heilige, katolieke, apostoliese kerk’. Binne hierdie denkwyse wás daar net een kerk (hoewel dit in werklikheid nie die geval was nie, gesien die bestaan van onder meer die Koptiese en Oosters-Ortodokse kerke). Met die breuk in die kerk as gevolg van die Reformasie is die ‘nuwe’ kerke in ’n eksistensiële krisis gedompel. Dit het naamlik gelyk asof hulle van die één kerk afgesny is, soos dooie takke van ’n boom. ’n Gevestigde opvatting in daardie tyd, aanvanklik verwoord deur Cyprianus van Kartago in die derde eeu, was: Extra Ecclesiam nulla salus, buit die kerk is geen heil nie. Hoe nou gemaak?

Vir die hervormers en hul kring was daar net een manier om aan die skynbaar verwoestende implikasies hiervan te ontsnap: herdefinieer ‘die kerk’. Dit is een sleutel tot ’n verstaan van die Protestantse kerkbegrip. Daarvolgens kan die kerk nie sommer met ’n spesifieke organisasie geïdentifiseer word nie. Dit mag wees dat daardie organisasie die pad byster raak, byvoorbeeld deur vals leerstellings te verkondig, sodat dit nie meer kerk is nie – ook al is dit die naam wat daaraan gegee word. Maar as die kerk dan nie ’n spesifieke historiese instansie met ’n lyn van gesagsdraers wat (na gemeen word) na die eerste apostels teruggevoer kan word (die sogenaamde apostoliese suksessie), is nie, wat is dit dan?

Die eienskappe van eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisiteit kan nie as kriteria vir die beantwoording van hierdie vraag dien nie, want daar die eienskappe is iets wat bely, eerder as waargeneem, word. ’n Mens moet eers weet waar die kerk is, met jou vinger daarna kan wys, voordat jy hierdie eienskappe daaraan kan toedig. Maar hoe weet jy waar die kerk is? Hiermee het ’n nuwe teologiese vraag, die vraag na die ‘merktekens’ van die ‘ware kerk’, ontstaan. Die vraag is: Hoe kan mens die ware kerk uitken?

Die antwoord hierop, van sowel Lutherane as Gereformeerdes, was gewoonlik die ‘suiwer verkondiging van die evangelie’ en die ‘regte gebruik van die sakramente’. Hieraan is soms toegevoeg: die kerklike tug of dissipline. Waar hierdie merktekens te sien is, daar is die ware kerk, en daarmee kan dit onderskei word van allerlei menslike instellings wat kerk genoem word, maar dit nie werklik is nie. Dit klink eenvoudig, maar is dit glad nie. Hoe klink ‘suiwer’ prediking? Hoe lyk ‘regte’ sakramente? Wanneer word die tug korrek toegepas? Juis weens geskille hieroor het die Protestantse kerke hoe langer hoe meer uitmekaar gespat.

Een manier om die ‘merktekens’ te verstaan is om dit nie in die eerste plek as ’n kriterium te gebruik om ander kerke as eg of oneg te identifiseer nie, maar eerder as ’n selfkritiese verwysingspunt: ‘Só lyk die ware kerk. Is dit hoe ons lyk?’ Dit is dan ook die vrugbaarste gebruik wat in die loop van die geskiedenis van hierdie maatstawwe gemaak is.

As ’n mens dit met die debat oor Joodse identiteit vergelyk, is daar ooreenkomste. Diegene, byvoorbeeld sommiges in die Rooms-Katolieke Kerk, wat die identiteit van die kerk met gevestigde strukture verbind, is meer ‘Sionisties’, en diegene wat dit meer aan die leer en lewe van geloofsgemeenskappe verbind, meer ‘diaspories’.

Die ANC en die bevrydingstryd

En nou, by wyse van spreke, back to the future. Soos in die Jodendom en die kerk, asook daarnaas en daarmee verstrengel, is identiteitsvrae van groot belang vir die moderne nasiestaat. Soms word die nasionale identiteit heel ‘Sionisties’ of ‘Katoliek’ aan ’n sekere landstreek en taal gekoppel, soms ook aan genetiese afkoms. Ander kere is die geskiedenis belangrik: die nasie as erfgename van ’n stel waardes, praktyke en instellings uit die verlede. Meestal word meerdere sodanige identiteitsmerkers gekombineer.

In die VSA word die nasie veral met verwysing na oorgeërfde waardes en instellings, byvoorbeeld vryheid, gelykheid en demokrasie, geïdentifiseer. In baie [veel] Europese lande werk dit anders. ’n Aantal jare gelede het die aanbring van die frase ‘Die bevolking’ in plaas van ‘Die volk’ by ’n simboliese voorstelling in die Duitse parlementsgebou byvoorbeeld veel opspraak verwek. ’n Mens kan verstaan hoekom as jy in ag neem dat, in Duitsland, mense uit ander lande wat Duitse grootouers het, makliker Duitse burgerskap kry as mense van nie-Duitse afkoms wat al jare in Duitsland woon, werk en belasting betaal.

In Suid-Afrika was die tradisioneel Europese bloed-en-bodem-model in die apartheidsjare oorheersend – ten minste wat die heersers betref. Die verskillende ‘volke’ in die land, soos die Afrikaners, Zoeloes, Tswanas en Vendas, is met verwysing na hul (vermeende) tradisionele ‘tuislande’ en hul tale gedefinieer. Iemand van Zoeloe-afkoms wat al die derde geslag in sy gesin is wat in die sogenaamde ‘blanke’ gebied woon, en wat miskien nog nooit in KwaZulu was nie, ‘hoort’ volgens hierdie denkwyse in KwaZulu en moet daarheen verskuif word. Dit was die logika van apartheid: volk, taal en grondgebied moet saamval.

Ná die einde van apartheid en die totstandkoming van ’n demokratiese eenheidstaat kon hierdie soort selfidentifikasie nie meer werk nie. Daar is dus na die Amerikaanse model oorgehel: Die SA nasie word gedefinieer deur hul geestelike erfenis uit die struggle-jare. Die stryd teen, en oorwinning oor, wit oorheersing, en die waardes van vryheid, gelykheid en menswaardigheid wat daarmee saamgehang het, geld as ‘eg Suid-Afrikaans’. In die laaste jare het ’n nuwe rasgebaseerde identiteit weer na vore getree, maar die historiese waarde-identiteit leef nog sterk.

Soos konings, pouse en predikante het moderne politici die gewoonte om hulself met sentrale identiteitsmerkers van die volk of gemeenskap te identifiseer. Dit geld ook die regerende party in SA, die African National Congress (ANC). In die heersende diskoers word die ANC beskou as die leidende instansie in die destydse stryd teen apartheid. Die einde van apartheid word dan ook as ’n suksesvolle oorwinning deur die ANC beskou, en die nuwe demokratiese instellings as vrug van dié party se dekadeslange stryd.

Histories is dit ’n baie [heel] simplistiese en misleidende visie. Daar was nooit net een party of organisasie wat teen apartheid geveg het nie, en die rol wat die United Democratic Front (UDF), ’n groepering van gemeenskapsorganisasies, in die jare 80 gespeel het om die apartheidstaat lam te lê, was waarskynlik veel deurslaggewender as die taamlik onbeholpe (en moreel hoogs aanvegbare) militêre stryd van die ANC. Groot ‘momente’ in die ANC se helde-mitologie, soos die Soweto-jeugopstand van die jare 70 en die geweldlose ‘civil disobedience’ van die jare 50, het nie deur die inisiatief van die ANC plaasgevind nie, maar vanuit onderskeidelik die Swartbewustheidsbeweging en die Pan-Africanist Congress, albei destyds opposisie van die ANC. Die ‘oorwinning’ oor apartheid was ook nie die uitkoms van ’n suksesvolle militêre stryd nie, maar ’n onderhandelde skikking wat onafwendbaar geword het weens veranderende internasionale magsverhoudings – met name die einde van die Koue Oorlog. Daar word ook maklik vergeet dat die ANC tot byna aan die bitter einde nie vir ’n veelparty-demokrasie nie, maar vir ’n eenpartystaat geveg het, en deurgaans Stalin en die Sowjet-unie se pryssanger was. Die liberaal-demokratiese Grondwet van die huidige SA is redelik teësinnig [met tegenzin] deur die ANC aanvaar.

Hoe dit ook al sy, in die populêre nasionale diskoers word dit alles as die stryd, prestasies en verworwenhede van die regerende party beskou. In die lig hiervan word enige teenstand teen dié party as ’n soort verraad teen die waardes en ideale van die struggle gesien. Wanneer iemand buite die party die ANC van ongrondwetlike optrede beskuldig, lui die antwoord: ‘Daardie Grondwet is aan ons te danke; wie is julle om dit teen ons te wil gebruik?’ As ’n hof bevind dat die regering, of ’n lid van die party, inderdaad oortree het, word die hof self as reaksionêr uitgemaak, en as die regter toevallig swart is, word hy of sy as ’n verraaier gesien. Wanneer dit verkiesingstyd is, word uitsprake gemaak soos dat God, synde ’n God van bevryding en geregtigheid, aan die kant van die regerende party is en wil hê mense moet vir die ANC stem – ja, selfs dat mense wat vir dié party stem hemel toe sal gaan (soos president Jacob Zuma onlangs verduidelik het).

Kom ons aanvaar argumentsonthalwe die sprokie dat die ANC wel die leidende instansie in die vryheidstryd was en dat Suid-Afrikaners die demokrasie soos dit vandag in die Grondwet geanker is aan dié party te danke het. Beteken dit dan dat mense wat die ideale en waardes van die destydse struggle hoog ag, verplig is om die ANC ten alle tye te ondersteun? Dit is die suggestie in die ANC se diskoers, maar klop dit?

Die probleem daarmee is dat ’n ongeldige logiese omkering plaasvind – iets soortgelyks aan die argument: alle honde is diere, dus is alle diere honde. Die draer van struggle-ideale en -waardes was die ANC (aanvaar ons vir die oomblik); dus sal die ANC altyd die draer van hierdie waardes wees. In die premisse gaan dit primêr oor die waardes en ideale, en slegs sekondêr oor die (vermeende) draer daarvan. In die konklusie is hierdie orde omgekeer: die party is waarom dit eintlik gaan, en die ideale en waardes slegs die legitimerende ‘draer’ van die party se onaantasbare gesag.

Dink weer aan die Protestantse insig dat geen instelling ‘ware kerk’ genoem kan word as dit nie die merktekens van die ware kerk vertoon nie; of meer ‘diasporiese’ Jode se voorkeur vir ’n Tora-gesentreerde, eerder as nasionalistiese, verstaan van hul eie identiteit. In albei gevalle word die identiteitsmerker nie gesien as ’n waarborg dat ’n bepaalde gevestigde instansie die ware kerk of die ware Israel is nie, maar eerder as ’n kritiese maatstaf waaraan aanspraakmakers op Christenskap of Joodsheid gemeet kan word. ‘Jeruzalem’ is ‘niet in Israël’, maar waar ‘het “Kol Nidrei” gezongen wordt’, ‘waar het gezin dat sjabbes viert ... zijn kippensoep in vrede eet’ en ‘waar men ’t groot verdriet herdenkt’.

Die ware draers van struggle-ideale en -waardes (al sou daardie waardes en ideale dan ook meer hedendaagse konstruksie as historiese werklikheid wees) is nie diegene wat, reg of verkeerd, daarop aanspraak maak dat hulle in die verlede die draers daarvan was nie, maar diegene wat vandag daardie waardes en ideale, soos in die Grondwet verwoord, teen elkeen wat dit bedreig in beskerming neem – ook as dié wat dit bedreig hulself as die ware draers beskou. 

Kuns van die onmoontlike

(Vir Jacob Zuma) 

As jy jou Christus wil laat noem,

moet jou nabootsing oortuig.

As jy wil wys God is aan jou kant,

moet jy jou slim posisioneer.

As jy op die Grondwet wil neerkyk,

moet jy 'n sierlike hemelvaart kan uitvoer.

As jy wil koningkraai tot Jesus kom,

is jou ambisie min:

Soos ’n dief in die nag

het hy jou onder jou neus

kaal uitgetrek,

sonder om te bluf,

deur net te is wat hy is.

Kan jy hom dit nadoen? 

Gerrit Brand




© S T R E V E N