April 1999

Theo du Plessis

Tolking, Waarheid en Versoening

Perspektiewe vanuit die tolkkabine op die Waarheids- en Versoeningsproses van Suid-Afrika

Die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) het [heeft] vir die tolkbedryf in Suid-Afrika gedoen wat die Nürnberg-verhore vir konferensietolking in Europa beteken het1. Simultane tolking was voor Nürnberg eintlik onbekend as 'n vorm van konferensietolking (d.i. tolking by groot publieke geleenthede [gelegenheden] in konsekutiewe of simultane modus) en het in ieder geval nie op so 'n skaal bestaan nie. Ofskoon daar voor die WVK in Suid-Afrika wel al simultane tolking werksaam was, het daar nog nooit vantevore so 'n groot span saamgewerk aan so 'n omvangryke projek as die WVK-verhore nie. Ook het daar nog nooit voorheen soveel simultane tolke in die Afrikatale [talen als Xhosa, Zulu, Venda, etc.] gewerk nie. Net soos Nürnberg 'n waterskeiding was in die ontwikkeling van die tolkbedryf in Europa2, sal die WVK-verhore die waterskeiding word van tolking in Suid-Afrika.

'n Enorme verskil tussen tolking by Nürnberg en tolking by die WVK is dat in eersgenoemde geval die tolke se bydrae gelei het tot die veroordeling van daders in 'n beskuldigebank. In die WVK se geval gebeur dit nie (buiten in hoogs uitsonderlike gevalle waar die WVK 'n saak teen [tegen] bepaalde getuies gemaak het as gevolg van meineed) aangesien die verhore hier geen veroordelingsmotief het nie. Suid-Afrika se WVK is om drie hoofredes ingerig, soos wat dit in die wet wat hierdie liggaam [dit lichaam] tot stand gebring het (Wet 34 van 1995), uiteengesit word:

[1] om die aard, oorsake en omvang van 'n growwe skending van menseregte rondom die stryd teen apartheid te boekstaaf en slagoffers die geleentheid te gee om hulle verhaal te vertel;

[2] om amnestie te verleen aan persone wat alle relevante feite met betrekking tot dade wat met 'n politieke oogmerk in verband staan ten volle openbaar;

[3] om maatreëls [maatregelen] te tref wat gemik is op die herstel aan en rehabilitasie van die menslike en burgerlike waardigheid van slagoffers van growwe skendings van menseregte.

Om dit ietwat oordrewe [overdreven, extreem] te stel, die Nürnberg-verhore se tolke het meegewerk aan 'n vergeldingsproses, terwyl die tolke by WVK-verhore meewerk aan 'n waarheids- en versoeningsproses. Dis 'n kardinale verskil, maar feit bly dat in beide gevalle die tolke 'n professionele diens moes lewer, waarsonder die betrokke prosesse nie kon plaasvind nie. Vanweë die erg emosionele aard van die WVK-verhore is hierdie punt soms uit die oog verloor, deur die tolke self en deur die gebruikers van tolke.

Die WVK3

Die WVK het tot stand gekom ingevolge 'n onderlinge onderneming wat die onderhandelaars by Kemptonpark4 rondom Nasionale Eenheid en Versoening as slotgedagte in die tussentydse Grondwet (Wet 200 van 1993) opgeneem het [hebben]. Hierdie ooreenkoms het bepaal dat 'n wet tot stand moet kom wat die proses van versoening en herstrukturering sal bevorder en wat voorsiening sal maak vir amnestieverlening 'met betrekking tot dade, versuime en misdrywe wat met politieke oogmerke in verband staan en wat in die loop van die konflikte van die verlede begaan is'. Ten uitvoering van hierdie ooreenkoms het die Portefeuljekomitee vir Justisie van die eerste demokraties verkose Parlement van Suid-Afrika die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening (Wet 34 van 1995) (algemeen bekend as die sogenaamde 'WVK-wet') voorberei na beraadslaging met kernrolspelers. Die President van die Republiek van Suid-Afrika, mnr. Nelson Mandela, het hierdie wet op 19 Julie 1995 onderteken.

Die WVK-wet bepaal dat die President 17 hoogs gerespekteerde persone met 'n lae [lage] politieke profiel as kommissarisse aanwys, in oorleg met sy Kabinet. NGO's, kerke en partye het altesaam 46 mense genomineer wat gedurende November 1995 deur 'n Presidentspaneel tydens 'n openbare verhoor ondervra is. Na afloop van hierdie openbare verhore is 24 name aan die President voorgelê waaruit hy uiteindelik die kommissarisse aangewys het. Vier van die kommissarisse is Afrikaanssprekend (twee van hulle kleurlinge), ses is Engelssprekend (twee van hulle Indiërs) en die res is swart, interessant genoeg almal uit die sogenaamde Nguni-groep (d.w.s. sprekers van Zulu of Xhosa, die twee grootste tale van Suid-Afrika, of van die direk verwante tale, Ndebele of Swati). Die WVK se kommissarisse is op Versoeningsdag, 16 Desember (1995), ingehuldig onder leierskap van Aartsbiskop Desmond Tutu. Onder sy energieke leierskap het hulle teen die einde van Januarie 1996 vir die eerste keer vergader en kort daarna met hulle aktiwiteite begin.

Die opdrag van die WVK was om uiteindelik so volledig as moontlik [mogelijk] verslag te doen oor die oorsake, aard en omvang van die menseregteskendings wat gedurende die periode 1 Maart 1960 tot 10 Mei 19945 voorgekom het, dit wil sê [zeggen] 'n periode van 34 jaar van konflik is so gedek. Dit moes gedoen word deur middel van ondersoeke en openbare (en waar nodig, geslote) verhore. Ten einde dit te bereik, het die WVK drie komitees saamgestel, te wete die Komitee vir Menseregteskendings (wat deur middel van verhore en ondersoeke die verhale van slagoffers rondom menseregteskendings moes boekstaaf en bestudeer), die Komitee vir Amnestie (wat amnestieaansoeke moes beoordeel) en die Komitee vir Reparasie en Rehabilitasie (wat 'n beleid moes daarstel rondom die herstel en rehabilitasie van die lewens van slagoffers en die oorlewendes van menseregteskendings). Die kommissarisse is by die drie komitees ingedeel en bykomende komiteelede is aangestel. In die geval van die Amnestiekomitee, byvoorbeeld, is drie onafhanklike regters aangestel, naas twee kommissarisse.

Om hierdie drie komitees in hulle take te kon ondersteun, is vier streekskantore, wat die nege provinsies verteenwoordig, binne 'n verstommende kort tyd opgerig naas die hoofkantoor in Kaapstad. Die streekskantoor in Johannesburg het Gauteng, Noordwes, Noordelike Provinsie en Mpumalang verteenwoordig; die een in Durban, KwaZulu/Natal en die Vrystaat; die een in Oos-Londen die Oos-Kaap; en die een in Kaapstad die Wes-Kaap en Noord-Kaap. 'n Uitvoerende hoof is aangestel en 'n personeelkomponent in diens geneem. Verder is 'n Ondersoekeenheid asook 'n Navorsingseenheid opgerig, wat beide magte ontvang het om mense te dagvaar om voor hulle te kom getuig.

Die WVK was veronderstel om haar werksaamhede binne agtien maande te voltooi maar vanweë die omvang van haar taak het dit meer as twee jaar geduur. Teen Junie 1998 het sy haar taak rondom die ondersoek na menseregteskendings afgehandel en ook rondom wyses waarop herstel en rehabilitasie gedoen kan word. Die hantering van amnestieaansoeke gaan egter nog voort tot Junie 1999.

Menseregtekomitee

Aanvanklik het die Menseregtekomitee die meeste aandag geniet met haar rondgaande verhore. Elke streekskantoor het hierdie verhore vir haar spesifieke streek georganiseer, wat meegebring het dat soms ten minste vier verhore gelyktydig plaasgevind het. Die verhore het oor een tot vyf dae gestrek. Geselekteerde slagoffers het by hierdie verhore die geleentheid gehad om formeel hulle verhaal rondom menseregteskendings in die openbaar by die WVK te kom registreer. Dit was 'n formele geleentheid waartydens 'n paneel kommissarisse en ook komiteelede teenwoordig was om die verhaal aan te hoor en om dan bepaalde vrae [vragen] daaromtrent aan die slagoffer/s te stel. Uiteraard was heelwat van hierdie verhale hartroerend en het daar dus by elke verhoor emosionele tonele afgespeel.

Die opvallende egter was dat dit oorheersend [dat het in overheersende mate] swart Suid-Afrikaners (altesaam 19.144 of 89,9% van die 21.297 verklarings) is wat gevalle van menseregteskendings kom aanmeld het, ofskoon besondere pogings aangewend is om ALLE bevolkingsgroepe te betrek. (Altesaam 354 of 1,7% van die verklarings het van kleurlinge gekom, 45 of 0,2% van Asiërs en 231 of 1,1% van wittes). Hieruit kan 'n mens duidelik aflei dat die swart gemeenskap die diepste getref is deur die konflik van die verlede. Hierdie 21.297 verklarings bevat altesaam 37.672 gevalle van ernstige menseregteskendings waarvan 9980 gevalle van moorde was. Die Kommissie bevind dus dat negentig persent van slagoffers van menseregteskendings swart is en dat die meeste van hulle vroue is en dat die meeste van hierdie vroue die Kommissie genader het namens gestorwe mans aan wie hulle verwant was (TRC 1998).

Amnestiekomitee

Aansoeke om amnestie kon gedoen word vir enige daad wat verband hou met 'n politieke oogmerk en gepleeg tussen 1 Maart 1960 en 10 Mei 1994. Die afsnydatum [uiterste tijdstip] vir die indiening van aansoeke was middernag om 30 September 1997. Altesaam 7127 aansoeke is voor hierdie sperdatum ontvang. Hierdie aansoeke is in drie groepe verdeel en word as sodanige gehanteer, te wete aansoeke vir openbare verhore (met ander woorde gevalle van ernstige menseregteskendings waarvoor om amnestie gevra word), kamersverhore (vir gevalle van minder ernstige menseregteskendings) en moontlike weierings (gevalle wat op die oog af [op het eerste gezicht] nie kwalifiseer nie). Teen 30 Junie 1998 is 4443 van die 7127 aansoeke om amnestie reeds afgehandel terwyl 2684 nog afgehandel moet word. Van die afgehandeldes is slegs aan 122 aansoekers amnestie toegestaan. Die res is òf geweier òf is om tegniese of ander redes nie oorweeg [in overweging genomen] nie. Van die 2684 onafgehandelde aansoeke, moet ten minste 1239 nog by openbare verhore gehanteer word en 602 in kamers. Die res kan nie oorweeg word nie. Die Amnestiekomitee se werksaamhede word dus nog voortgesit sodat die oorblywende [overblijvende, resterende] aansoeke afgehandel kan word. Daar word beoog om hierdie taak teen Junie 1999 te voltooi.

Rehabilitasiekomitee

Die Rehabilitasiekomitee het oor die laaste twee jaar ondersoek gedoen na die beste manier om die slagoffers van mensregteskendings te vergoed. Aanbevelings van hierdie komitee dien tans voor die President. 'n Skadevergoedingsbedrag wat nagenoeg R3 miljard beloop, is ter sprake.

Vertaling en tolking by die WVK6

Die WVK het die Eenheid vir Taalfasilitering en Taalbemagtiging (voorheen: Taalfasiliteringsprogram) van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) in Bloemfontein gekontrakteer om tolkdienste in die elf amptelike Suid-Afrikaanse tale (Afrikaans, Engels, Ndebele, Pedi, Sotho, Swati, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zulu) te lewer. Hierdie diens is op enkele uitsonderings na as 'n simultane tolkdiens gelewer. Die toerusting wat hiervoor gebruik is, is van Wes-Vlaamse oorsprong - die WVK het 'n hele aantal mobiele tolkeenhede van die internasionaal bekende firma Televic aangekoop. Vertalings van bepaalde dokumente (hoofsaaklik verklarings van slagoffers en bemarkingsmateriaal) is hoofsaaklik deur interne personeel van die WVK self behartig.

Die Eenheid vir Taalfasilitering en Taalbemagtiging (ETFB) was gedwing om letterlik binne enkele dae 'n geskikte tolkspan op die been te bring vir die eerste rondte van vier openingsverhore van die WVK in Oos-Londen, Kaapstad, Johannesburg en Durban. Dit is gedoen met 'n bestaande kernspan [kernteam] opgeleide tolke van die Eenheid. Hierna het die WVK haar verhore op streeksbasis begin organiseer, wat meegebring het dat per week ten minste vier verhore gelyktydig plaasgevind het, en moes die Eenheid weer binne enkele weke bykomende tolke werf. Kandidate is nasionaal in samewerking met die WVK gewerf en na Bloemfontein gevlieg vir keuring en opleiding. 'n Span van 20 'tolke' is na 'opleiding' deur die Eenheid in diens geneem om die tolkdiens by die WVK te behartig. Hierdie span is sedertdien uitgebrei met enkele vryskuttolke [free-lance] en in 1998 ook met verdere indiensnemings. Vandag behartig altesaam 35 'tolke' die diens.

Teen die einde van Oktober 1998 is reeds by 263 verhore van die WVK getolk. Dit beloop altesaam 28 412 tolkure of 3552 tolkdae of 178 tolkweke; dus bykans drie-en-'n-half-jaar se deurlopende tolking! By 75% van hierdie verhore is van 'n Afrikaanse tolkdiens gebruik gemaak, by 35% van 'n Xhosa-diens, by 32% van 'n Zulu-diens en by 21% van 'n Sotho-diens. Dienste in die ander landstale het ook voorgekom, maar nie op dieselfde skaal as hierdie vier 'grotes' nie. 'n Engelse tolkdiens is by alle verhore gelewer.

Uiteraard is dit onmoontlik om professionele tolke binne die bestek van enkele weke op te lei, soos wat van die ETFB in hierdie geval verwag is. Desondanks is gepoog om die taak so goed as moontlik uit te voer. Die opleiding het gekonsentreer op tegniese aspekte van die tolkproses self, op die gedragskode van konferensietolke, op tolking by WVK-verhore (die diens is hoofsaaklik by menseregte- en amnestieverhore gelewer), op gepaste taalgebruik (woordgebruik, terminologie ens.) en op die hantering van probleme tydens en in verband met die tolksituasie. Na opleiding het die nuwelinge (van die persone wat by die Eenheid in diens geneem is, het niemand voorheen getolk nie) 'n tyd lank onder die toesig van 'n professionele tolk (waarvan daar maar enkele in Suid-Afrika werksaam is) gewerk waarna hulle op hul eie gelaat [waarna ze aan zichzelf overgelaten zijn] is. Die proses word herhaal met elke nuwe aanstelling wat gemaak word.

'n Logistiese bestuurder is deur die ETFB aangestel om die tolkdiens by die WVK vanuit Bloemfontein te koördineer. Buiten die omvangryke logistiese organisasie wat met die tolkdiens gepaard gaan (die 35 tolke woon in verskeie dele van die land en moet dus na die verhore vervoer word waar akkommodasie verskaf moet word ensovoorts), moet die logistiese koördineerder ook omsien na handhawing van 'n goeie standaard in tolking en na die emosionele welstand van die tolke7 (die betrokke koördineerder is 'n nagraadse sielkundestudent [postgraduaatse psychologiestudent]). Om laasgenoemde proses te vergemaklik, het die WVK haar terapeutiese diens ook ter beskikking van die tolke gestel. Sommige maak met welslae daarvan gebruik. Om te verseker dat 'n goeie standaard van tolkwerk gehandhaaf word, word die WVK-tolke op 'n deurlopende basis deur professionele tolke beoordeel onder leiding van die logistiese koördineerder. Toeligtings word dan van tyd tot tyd rondom hierdie evaluerings gemaak sodat die tolke deurgaans [continu] opgeskerp kan word rondom moontlike probleemareas.

Die tolkdiens verloop meestal vlot, maar daar duik uiteraard probleme op. Meestal word die probleme op 'n daaglikse basis deur die tolkspan self opgelos en soms ook onder leiding van die logistiese koördineerder indien hy teenwoordig kan wees. Dit is gebruiklik dat die WVK-kommissarisse en/of WVK-personeel enige probleme direk onder die aandag van die tolke bring. Ook die media sal probleme onder die aandag van die tolke bring. Dit het egter by hoë [hoge] uitsondering gebeur dat die WVK 'n probleem met die direkteur van die ETFB self opgeneem het en geen WVK-verhoor het werklik tot stilstand gekom as gevolg van gebrekkige tolking nie; geen geringe prestasie nie indien in aanmerking geneem word dat in werklikheid met onderopgeleide tolke gewerk word!

Aangesien simultane tolking in Suid-Afrika so 'n nuutjie [iets nieuws] is, 'n opmerking wat ook in die eerste hoofstuk van die WVK-verslag, The Report of the Truth and Reconciliation Commission (TRC 1998), gemaak word, het daar heelwat probleme hieruit voortgespruit. Enkeles word saaklik aan die orde gestel:

[1] Vanaf die heel eerste verhoor tot by die huidige bly die probleem van onvoldoende of geen dokumentasie aan die tolke 'n enorme probleem. Die kommissarisse en regspanne [juristenteam, magistraten] (waar van toepassing) word voorsien van omvangryke dokumentasie rondom die gevalle wat die betrokke dag sal voorkom, maar die tolke in die reël nie. Soms word bepaalde dokumente wel op die dag van die verhoor aan die tolkspan voorsien, maar bykans nooit sal die tolke die dokumentasie vooraf ontvang nie. Dit beteken dat die tolke meestal totaal onvoorbereid is oor wat op 'n betrokke dag gaan volg, wat natuurlik enorme druk op hulle plaas. As gevolg hiervan het dit al gebeur dat die tolke dan te doen kry met hoogs tegniese getuienis (bv. tydens die verhore rondom die apartheidsregering se chemiese oorlogvoering) wat natuurlik onmoontlik is om sonder voorbereiding te tolk. Ongelukkig word die tolke dan kwalik geneem indien daar misverstande begin ontstaan as gevolg van hulle ontoereikende gebruik van terminologie.

[2] Die hantering van kruisondervraging lewer altyd probleme op. Die ondervraer laat nie altyd toe vir genoeg tyd om die antwoorde te tolk nie. Dit gebeur veral by verhore waar die getuie en die regspan dieselfde taal besig (meestal Afrikaans of Xhosa). Terwyl die tolke bv. nog die getuie se antwoord na Engels tolk, begin die ondervraer reeds met sy of haar volgende vraag. Dit plaas ook enorme druk op die tolke, wat meebring dat inligting soms verlore gaan of dat die tolke reëlmatig in die derde persoon die gang van die verhoor moet onderbreek om vrae herhaal te kry [om vragen herhaald te krijgen] of om antwoorde klaar getolk te kry. Op die duur werk hierdie soort van onderbrekings deur die tolke natuurlik steurend in op die luisteraar.

[3] Sprekers vergeet om mikrofone aan te skakel en rammel gewoon voort terwyl daar dan geen getolkte weergawe van hulle spreekbeurt geregistreer word nie.

[4] Sprekers neem ook nie altyd die tolke in ag met hulle spraaktempo nie. Die tolke kan gewoonlik 'n redelike vinnige spreker hanteer [kunnen gewoonlijk om met redelijk snelle sprekers] maar in die gevalle van buitengewoon vinnige sprekers word tolke verplig om in die derde persoon vriendelike protes aan te teken. Hierdie probleem kom veral voor waar sprekers tekste vir rekorddoeleindes [voor de goede orde, "for the record"] inlees. Hulle leestempo is gewoonlik vinniger as hul spraaktempo, wat tolking in die meeste gevalle prakties onmoontlik maak.

[5] By verhore waar die meerderheid van die gehoor Afrikataalsprekers is, versoek die WVK dan die ongewone, naamlik dat die Afrikataal oor die luidsprekerstelsel uitgesaai moet word sodat alles gevolg kan word. (Dit gebeur as gevolg van 'n gebrek aan genoeg oorfone [oortelefoontjes], wat gewoonlik verband hou met gebrekkige beplanning.) Hierdie praktyk bring mee dat die getolkte weergawe van wat op die verhoog gebeur, ook na die gehoor uitgesaai word! (Die normale praktyk is om die vloertaal oor die luidsprekerstelsel uit te saai, wat die mins steurende op die deelnemers aan die verhoor en die tolke inwerk.) Dit bring mee dat Afrikaanse of Engelstalige getuies en slagoffers soms verwar word aangesien hulle nie hulleself op die luidsprekerstelsel hoor praat nie, maar die tolke. Die gevolg is dat die betrokke spreker dan begin wag op die tolk om spreekbeurte eers klaar te tolk voordat voortgegaan word, wat steurend is.

[6] Die probleem van wag op die tolke kom ook gereeld [geregeld] voor wanneer deelnemers aan die verhoor se ontvangstoestel nie op dieselfde kanaal ingeskakel is as die taal wat die betrokke deelnemer gebruik nie. So gebeur dit dikwels dat 'n Afrikaanse deelnemer sy of haar toestel op Kanaal 2 (Engels) instel in plaas van Kanaal 1 (Afrikaans). Die deelnemer self praat Afrikaans en wag dan eers vir die getolkte Engelse weergawe om afgehandel te word alvorens hy of sy voortgaan met die volgende spreekbeurt. Hierdie praktyk verstadig [vertraagt] uiteraard die proses, werk steurend in op al die luisteraars en plaas onnodige druk op die tolke.

[7] Baie van die slagoffers weet glad nie [Veel slachtoffers weten helemaal niet] hoe die tolkproses werk nie en vind buitendien die hele formele verhooropset wêreldvreemd. Ten spyte van herhaalde probleme hieromtrent wat sedert die eerste verhoor plaasvind, slaag die WVK-helpers nou nog nie daarin om die betrokkenes vooraf deeglik op die proses voor te berei nie. Dit bring telkens vertragings en misverstande mee. Dit gebeur ook dikwels dat die getuie of slagoffer nie die oorfone behoorlik op het nie, of dat die gehoortoestel nie op die korrekte kanaal ingeskakel is nie. 'n Verdere probleem is dat die betrokke luisteraar nie altyd goed begryp wie se stem op die oorfone gehoor word nie of dat die persoon dan met die tolk in gesprek tree, in plaas van om haar te rig tot die vraagsteller.

[8] Wat ook problematies is, is dat die WVK-personeel nie daarin slaag om die taalvoorkeure van slagoffers en getuies vooraf vas te stel nie. Dit gebeur dikwels dat die logistiese personeel van die WVK vir tolkkombinasies van die ETFB aanvra op basis van die agtername van slagoffers en getuienis en gevolglik [bijgevolg] dan met totaal ontoereikende tolkdienste opeindig [blijven zitten, zitten]. Ongelukkig word die tolke dan hiervoor kwalik geneem.

Dit is jammer dat die tolke dikwels kwalik geneem word vir probleme wat rondom die tolking by die WVK-verhore ontstaan terwyl dit in baie gevalle 'n probleem is wat buite hulle beheer is. 'n Mens moet waarskynlik aanvaar dat dit algemene praktyk wêreldwyd is en dus deel van die risiko wat met die beroep gepaard gaan!

Uiteraard kon 'n mens verwag het dat daar rondom die tolke se hantering van die WVK-verhore ook heelwat probleme sou voorkom. Enkele van die vernaamstes word saaklik uitgelig:

[1] Die gehalte [kwaliteit] van taalgebruik in Engels is nie altyd na wense nie. Daar werk slegs enkele Engelstalige tolke, terwyl alle verrigtinge NA Engels getolk moet word. Hierdie tolke hanteer [handelen af] egter die tolkdiens van Afrikaans na Engels, sonder noemenswaardige probleme. Die tolking van 'n Afrikataal na Engels word egter deur Afrikataalsprekers gehanteer, wat veral rondom uitspraak probleme oplewer. Daar ontstaan soms verwarring oor die juiste betekenis van woorde, bv. die geval van die uitspraak van die woord bêds (Engels: birds) wat die luisteraar dan vertolk as beds (Afrikaans: beddens) en so totaal op 'n dwaalspoor beland.

[2] Omdat die meeste tolke nie Engelstalig is nie lewer taalinteferensies in Engels dikwels probleme op. Die onderskeid tussen vroulike en manlike voornaamwoorde kom nie voor in die Afrikatale nie wat meebring dat die betrokke tolke dan in Engels verwys na she terwyl he bedoel word. Wanneer verskillende akteurs by menseregteskendings betrokkke is, werk hierdie probleem erg steurend in op die luisteraar se vermoë [vermogen] om die gedagtegang van die slagoffer te volg.

[3] Die hantering van metaforiek is erg problematies. Dit gebeur soms dat slagoffers hulle verhale in 'n hoogs gekodifiseerde vorm giet, wat dit vir die tolke bykans onmoontlik maak om dit verstaanbaar te tolk. Veral vroue uit die tradisionele gebiede doen dit wanneer hulle oor erg intieme sake getuienis moet lewer. Hulle gebruik dan kodes of metafore om 'n saak te beskryf. Die tolke 'vertaal' dan nie die kode nie, wat meebring dat eintlik totaal 'n onverstaanbare verhaal getolk word. So vernoem die vroue dan hulle genitalieë op duistere maniere, wat dit vir die oningeligte onmoontlik maak om te verstaan, behalwe as die tolk nie 'n direkte vertaling gee nie, maar 'n "kulturele vertaling".8

[4] Dialektiese verskeidenheid in die Afrikatale lewer ook geweldige probleme op vir die tolke. Hierdie probleem hou veral verband met die verskil tussen die taalgebruik van plattelandse en erg tradisionele gebiede en meer metropolitaanse [stedelijke] gebiede. So is 'n slagoffer by een van die Oos-Londense verhore na Engels getolk dat hy deur miere (Xhosa: imbovane) in sy tronksel [gevangenis-cel] gebyt is, terwyl hy eintlik in Xhosa na luise (Xhosa: intakumba) verwys het! Hy het dus vir die kommissarisse 'n beeld probeer gee van hoe onhigiënies toestande in aanhouding was. Ofskoon die begrip steeds oorgedra is, het die gehoor uitgebars van die lag by aanhoor van die tolk se weergawe, wat ongelukkig steurend op die slagoffer se verhaal ingewerk het. In Kaapstad het 'n slagoffer die plaaslike woord vir vangwa [overvalwagen] (Xhosa: koyiyoko = aaklige dier) gebruik, wat die tolke dan as terrible animal na Engels getolk het. Wat die luisteraar dus in Engels verneem het, is dat die polisie 'n klomp jeugdiges [een bende jongeren] by een van die Kaapse townships "vir 'n aaklige dier gegooi het", terwyl hulle eintlik in 'n polisievangwa gestop is! Ook hier het die gehoor uitgebars van die lag9. By 'n ander verhoor het 'n vroulike slagoffer na die polisie se tipiese geel motorvoertuie verwys as "die mellow yellow" (na aanleiding van 'n bekende popliedjie). Die Xhosa-tolke het in hierdie geval die woord net so in Engels gebruik aangesien dit 'n algemeen bekende woord in die townships is. Die Afrikaanse tolke en die kommissarisse het nie geweet waarvan daar gepraat word nie.

[5] Die gebruik van kru woorde is ook problematies. 'n Zulu-vrou in Durban het vertel hoe 'n swart polisieman oor haar gaan hurk en op haar gesig geurineer het om haar sodoende te dwing om haar seun se skuilplek bekend te maak. Die Zulu-woord wat die vrou vir urinering gebruik het, is na Engels getolk as piss (Afrikaans: pis). Wat dus in Engels oorgekom het, is 'he then sat on me and pissed in my face'. (Die Afrikaanse tolke het toevallig in hierdie geval getolk, 'hy het toe oor my gehurk en op my geurineer' omdat gevoel is dat die formele verhooromstandighede nie banale taalgebruik toelaat nie.) Hierop het die kommissarisse per nota 'n versoek aan die Zulu-tolke gerig om nie vulgêre taal te gebruik nie. Oor die hantering van hierdie soort aangeleenthede voer die tolke sedertdien 'n deurlopende debat.

[6] Sommige tolke het nog 'n swak begrip van die tolksituasie self. Die dialoog rondom vraag en antwoord word soms nie na wense en ook nie met die nodige insig getolk nie. Die tolke vergeet soms om bepaalde passasies [passages] te tolk en sluit die luisteraar dus by die dialoog uit. So word die getuie byvoorbeeld deur die kommissaris wat die verrigtinge lei in Engels gevra of sy gemaklik sit, wat dan nie deur die tolk aan die getuie na bv. Xhosa getolk word nie omdat die tolk dit as 'n oorbodige vraag sou kon beskou. Die getuie antwoord dan in Xhosa dat sy nie gemaklik is nie (bv. omdat sy senuagtig of benoud is) wat die tolk dan ook weer nie terugtolk na Engels vir die kommissaris nie. Wat dan gebeur, is dat die kommissaris gewoon voortgaan met sy of haar ondervraging terwyl die getuie steeds ongemaklik voel. 'n Mens wonder dan of die slagoffer haar verhaal na die beste van haar vermoë [naar bestvermogen] vertel.

[7] Voorts lewer die gebruik van die eerste persoon (soos dit gepas is by konferensietolking) soms vir die tolke probleme op. Die verhaal van die slagoffer of getuie word in die eerste persoon getolk, maar onder bepaalde omstandighede is dit gebruiklik om in die derde persoon te tolk, om dit vir die luisteraar duidelik te maak dat dit die tolk is wat nou praat en nie die persoon in die getuiebank nie. So moes tolke by meer as een geleentheid, waar die kommissarisse 'n getuie se woord in twyfel getrek het, in die derde persoon aan hulle verduidelik dat wat die tolke tolk dit is wat die getuie sê. By 'n verhoor in Kroonstad is 'n getuie herhaaldelik in Engels gevra of hy 'n opdrag gehad het om mense in 'n Kombi koelbloedig te vermoor. Die vraag is dan in Sotho na hom getolk. Hy het dit drie keer ontkennend in Sotho geantwoord. Toe die kommissarisse dit derhalwe betwyfel (omdat hulle inligting gehad het wat die teendeel bewys) moes die tolke in die derde persoon in Engels die getuie se antwoord bevestig. In hierdie geval is die onderskeid tussen eerste persoon en derde persoon dus korrek aangewend. Voorbeelde wat gereeld voorkom waar dit nie reg [correct] gebruik word nie, hou verband met gevalle waar die spreker nie sy of haar mikrofoon aktiveer nie en die tolke dus geen klankvoer [geluid] kry nie. In plaas van die derde persoon, gebruik die tolke dan instinktief die eerste persoon om die betrokke probleem te kommunikeer. Die luisteraar hoor dus: 'ek kan nie hoor nie' en dink dan dat die getuie nie kan hoor nie. Die helpers word dan versoek om die getuie of slagoffer se oorfone te toets of iets dergeliks, wat dan konsternasie by laasgenoemde veroorsaak! Dit bring 'n onnodige onderbreking in die verhoor mee wat vermy kon gewees het indien die tolke in die derde persoon aangekondig het, 'die spreker se mikrofoon is nie aan nie'.

[8] Ongelukkig het sommige tolke 'n misverstand rondom die gebruik van die eerste persoon veroorsaak wat nogal op sentimentele en soms ook sensasionele wyse deur die media, die skrywer Antjie Krog in haar boek rondom die WVK-verhore, Country of my skull (1998), en selfs in die WVK-verslag weergegee is. 'n Betrokke tolk het naamlik by 'n verhoor in Tzaneen te kenne gegee dat die gebruik van die eerste persoon om die soms skrikwekkende verhale van slagoffers en daders weer te gee, 'n persoonlike letsel gelaat het. Hierdie opmerking is ongelukkig deur die media en andere opgeraap en nogal op 'n sensasionele wyse gerapporteer, terwyl dit eintlik onprofessioneel was van die tolk om so iets kwyt te raak [te laten vallen]; 'n duidelike bewys van sy onbegrip van die aard en omvang van die professionele taak op hande. Dit is interessant dat die professionele tolke nooit hierdie soort opmerking gemaak het nie.

[9] Die tolke se hantering van druk bly 'n groot probleem. Die hoë emosionele inhoud van die verhore gekoppel met die spanning wat in ieder geval met simultane tolking gepaard gaan, veroorsaak dat die tolke onder geweldige druk moet werk. Dit bring mee dat die gehalte van tolking nie altyd na wense nie aangesien die tolke konsentrasie verloor. Hierdie probleem is veral groot by amnestieverhore waar die dinamiek van die regsproses geweldige konsentrasie van die tolke vereis.

Heelwat van hierdie probleme kan toegeskryf word aan die onvoldoende opleiding wat die tolke geniet het maar gee terselfdertyd ook 'n indruk van die kompleksiteit van tolking by die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Desnieteenstaande het die tolke 'n reuse taak verrig en 'n enorme bydrae gelewer om die waarheid rondom Suid-Afrika se konflikbelaaide resente geskiedenis gedokumenteer en blootgelê te kry. Eintlik kan 'n mens sover gaan as om te sê dat sonder die tolke en die tolkdiens daar geen waarheid sou gewees het nie. Daarom is dit so opvallend en uiters jammer dat die tolke nie in die voorwoord van die verslag van die WVK pertinent bedank word nie, terwyl die media, wat die slagoffers se verhaal soos dit deur die tolke weergegee is, wel uitvoerig bedank word.

Rol van media

Die totale WVK-proses is op video opgeneem en is vir sover moontlik volledig op Radio 2000, 'n nasionale radiosender, direk uitgesaai [uitgezonden]. Tydens die bekendstellingsverhore is die proses direk gebeeldsend na die nasionale TV-kanale. Vir hierdie doeleindes is die klankvoer van die tolke se produksie [de vertaling door de tolk] op die Engelse kanaal direk uit die kabine getap en net so gebruik10. Dit het dus beteken dat die Suid-Afrikaanse nasie op 'n daaglikse basis die tolke oor die lug kon hoor. Hierdie ietwat ongewone blootstelling van die tolke het natuurlik groot bykomstige druk op hulle geplaas. (Alle pogings om daarop te wys dat tolke ingevolge internasionale konvensies 'n kopiéreg op hulle tolkproduksie het11, en dat hulle toestemming daartoe moet verleen, het op niks uitgeloop nie12) Tog moet 'n mens toegee dat Suid-Afrikaners wel op hierdie manier daagliks op hoogte kon bly met presies wat binne die WVK-verhore plaasgevind het.

Hierbenewens [Bovendien] is daar letterlik elke dag oor alle radio- en TV-senders van die SAUK [de Zuid-Afrikaanse omroep] volledig berig oor die uitkomste van die verhore. (Die bekende rooi liggie van die Televic-mikrofone wat by die WVK-verhore gebruik is, het 'n huishoudelike gesig geword.) Verder het al die senders ook spesiale rubrieke ingerig waar daar op ten minste 'n weeklikse basis in diepte berig is oor die stand van die WVK-verhore. 'n Spesiale rubriek op een van SAUK TV se kanale op Sondagaande [zondagavonden] het veral groot aftrek gekry en het ook verskeie toekennings [erkenningen] ontvang. Hierdie program het goed daarin geslaag om 'n breër historiese konteks te skets rondom elke verhoor wat waarskynlik 'n belangrike bydrae gelewer het tot die kykers se begrip van die waarheid omtrent Suid-Afrika se apartheidsverlede.

Soos die tolke onmisbaar was om die waarheid blootgelê en geboekstaaf te kry, so het die media 'n onmisbare rol gespeel om die breë publiek in te lig oor die verloop van die verhore. Vandaar dat hulle 'n spesiale vermelding in die voorwoord tot die WVK-verslag verdien.

Uit die tolke se oogpunt het die media waarskynlik nie genoeg gedoen om hulle aandeel in die verrigtinge uit te lig nie. Tot nou toe het nie een SAUK-program die tolke vir hulle bydrae gehuldig nie. In 'n stadium was daar planne om oor die tolkdiens 'n program te maak, maar dit het nie gerealiseer nie. In stede hiervan het die media verkies om te konsentreer op die negatiewe rondom die tolkdiens (bv. wanneer daar ernstige blabse [fouten, vergissingen] was) of op die sentimentele en sensasionele (bv. oor die emosionele impak van die verhore op die tolke). Wat laasgenoemde betref, is nogal veel gemaak van die emosionele impak van tolking in die eerste persoon, terwyl dit eintlik 'n standaardprosedure by alle vorme van konferensietolking is. Jammer genoeg, het daar tot dusver ook nog nie 'n diepte-artikel verskyn waarin die historiese waarde van die tolkdiens, die aard en omvang daarvan asook die impak op die waarheids- en versoeningsproses verskyn nie. 'n Mens kry byna die indruk dat die tolke op dieselfde vlak as die mikrofone, luidsprekers en ligte geag word.

Resultate

Op Donderdag, 29 Oktober 1998 om 12:00 het Aartsbiskop Desmond Tutu, Voorsitter van die WVK, die eerste ses volumes van die reuse WVK-verslag seremonieel aan President Nelson Mandela oorhandig. 'n Bietjie meer as twee uur vantevore was dit nog onseker of die verslag überhaupt oorhandig sou word aangesien die ANC 'n dringende hofbevel probeer bekom het [had proberen te krijgen] om die oorhandiging daarvan te verhoed. Hulle verweer was dat die bevindinge wat die WVK in haar verslag maak oor bepaalde skendings van menseregte deur die ANC, die organisasie se bevrydingsstryd kriminaliseer. Hulle verweer is verder dat dit foutief is om die ANC se optrede gelyk te wil stel met die van die staatsmasjienerie van die apartheidsregering. Die bevel is om 09:55 in die Kaapse Hoërhof [Hooggerechtshof] van die hand gewys. Aartsbiskop Tutu kon dus die verslag oorhandig. 'n Dag vantevore het dieselfde hof egter bevind dat die bevindinge van die WVK rondom die rol van die voormalige President, F.W. de Klerk by menseregteskendings voorlopig teruggehou moet word. Die WVK was dus verplig om die betrokke gedeeltes te sensureer maar is wel toegelaat om die verslag in sy geheel te publiseer.

Eintlik is dit 'n pluimpie in die hoed van die WVK dat sy haar nie laat intimideer het deur die ANC, die meerderheidsparty in die regering, nie en dus ondanks enorme politieke druk voortgegaan het met die uitreiking van die verslag. Dit bevestig dat die WVK in werklikheid ewewigtig opgetree het rondom haar boekstawing van menseregteskendings asook rondom die maak van bevindinge, 'n taak wat deur die Parlement aan haar opgedra is en wat sy dus met integriteit probeer uitvoer het. Die waarheid sny na twee kante, dit illustreer die WVK se lywige [lijvige] verslag onteenseglik. Daarom is dit so jammer dat die bekendstelling van die verslag in kontroverse gehul is.

Die vraag wat egter nou onvermydelik na vore kom, is of WVK bereik het wat met die liggaam beoog is. Is die waarheid omtrent die gewapende konflik in Suid-Afrika blootgelê en geboekstaaf? Word amnestie verleen? Is slagoffers se menswaardigheid en burgerlikheid herstel en gerehabiliteer? Kom daar versoening?

Dit is uiteraard onmoonlik om in die bestek van hierdie artikel sulke komplekse vrae te beantwoord. Verskeie mense het ook al sedert die totstandkoming van die WVK en nou ook na die verskyning van haar verslag al oor hierdie vrae nagedink en daar word op die oomblik eintlik vurig gedebatteer rondom die uitkomste van die WVK-proses.

So het daar onlangs 'n opname verskyn waarin aangetoon word dat die WVK-proses eintlik kontraproduktief werk, met ander woorde dat in plaas van versoening te bewerkstellig dit mense verder gepolariseer het (Business Day, 27 Julie 1998). 'n Verdere studie, Truth and Reconciliation in South Africa: Attributions for Blame and the Struggle Over Apartheid (Gibson & Gouws 1998), bevestig hierdie bestaan van rasseporalisasies [raciale polarisaties] rondom die WVK-proses en bevind verder dat Suid-Afrikaners oor die algemeen vergelding verlang en dat amnestie in werklikheid onpopulêr is. 'n Ander studie, Reconciliation: The Road to Healing? Collective good, individual harm? (Winslow 1997), bevind weer dat die WVK in werklikheid nie oor die strukturele middele beskik om versoening te kan bewerkstellig nie, ten spyte van die feit dat dit die liggaam se oorhoofse [allerbelangrijkste] oogmerk is. Wat die studie egter bevind is dat daar wel deur middel van heling 'n proses van versoening plaasvind. Dit vind nie noodwendig op 'n daaglikse basis plaas nie, maar op makroskaal in die land. Die waarde van die WVK lê [ligt] volgens hierdie bydrae by vier belangrike prestasies:

[1] Die WVK normaliseer die traumasimptome en blootstelling aan growwe geweld.

[2] Die WVK het 'n forum geskep vir slagoffers waar hulle die menslikheid van daders van menseregteskendings deur middel van amnestieverhore kan beleef.

[3] Die WVK het die mag om heling te bewerkstellig met haar klem op die voorkoming van toekomstige menseregteskendings.

[4] Die WVK het die potensiaal om sommige van die kragtigste herinnerings aan menseregteskendings uit die verlede te verwyder en so 'n voortgesette trauma onder slagoffers uit te skakel.

Aartsbiskop Desmond Tutu reageer in die voorwoord tot die WVK-verslag op die kritiek wat die WVK moet verduur deur te waarsku dat die waarheid inderdaad verdelend werk maar dat dit nie einde van die proses is nie:

The truth can be, and often is, divisive. However, it is only on the basis of truth that true reconciliation can take place. True reconciliation is not easy; it is not cheap.

Hy gaan dan voort en gee etlike voorbeelde van geleenthede by WVK-verhore waar versoening inderdaad plaasgevind het en doen dan 'n laaste beroep op 'n wit leier om na vore te kom en om vergiffenis te vra, wat dan 'n sterk simboliese gebaar in die rigting van die swart gemeenskap sou wees. Hy doen egter ook 'n beroep op alle Suid-Afikaners om van versoening 'n persoonlike saak te maak sodat die boek van die verlede toegemaak kan word.

Dit is dus duidelik dat daar geen maklike antwoord is op die vraag of die WVK versoening bewerkstellig nie. Wat wel bevind kan word, is dat die WVK daarin geslaag het om die waarheid van die gewapende konflik in Suid-Afrika in meer detail as ooit vantevore te boekstaaf, daarvan getuig haar lywige eindverslag! Ook kan ons sê dat hierdie verslag oorwegend die geskiedenis van menseregteskendings ewewigtig [evenwichtig] weergee - die WVK kan nie verkwalik word [het kan de WVK niet kwalijk genomen worden] as daar nie meer wittes was wat gevalle van menseregteskendings kom aanmeld het nie en vir die feit dat die meeste skendings inderdaad teen swartes gepleeg is nie. Verder kan ons ook sê dat die WVK met 'n redelike mate van versigtigheid amnestie verleen, vandaar die betreklik min aansoeke wat tot dusver toegestaan is. Dan kan ons ook sê dat die WVK met haar aanbevelings rondom herstel en rehabilitasie uiteindelik sal bydrae tot die herstel van slagoffers se menswaardigheid. Die WVK het dus grootliks bereik wat haar ten doel gestel is.

Miskien moet 'n mens dus ten slotte sê dat die WVK se grootste bydrae tot versoening in hierdie stadium op die gebied van heling voorkom en dat dít uiteindelik die basis sal vorm vir versoening. Ons moet waarskynlik ook toegee dat versoening, soos die Aartsbiskop sê, geen maklike en goedkoop proses is nie. Suid-Afrikaners het dalk [meteen, dadelijk] buitengewoon hoë verwagtinge aan die werk van die WVK gestel en dit kan dus wees dat daar nou groot teleurstelling en selfs onthutsing heers omdat die beskikbaarmaking van die verslag nie as't ware die magiese versoeningsmoment was nie. Wat nou waarskynlik sal moet gebeur, is dat elke Suid-Afrikaner wat buite die proses gestaan het, die verslag MOET lees, dan in sy en haar eie gemoed vrede bewerkstellig met die verlede en daarna met 'n moreel-kritiese ingesteldheid in samewerking met medelandsburgers die enorme taak aanpak om 'n nuwe Suid-Afrika te bou waar die foute van die verlede nie weer herhaal sal word nie. Versoening sal waarskynlik kan evolueer uit die mate waarin mense die verlede verwerk het en hulle tot 'n nuwe toekoms verbind het.

Konklusie

Dit was 'n groot eer om die waarheids- en versoeningsproses vanuit die tolkkabine mee te maak en om so 'n onmisbare aandeel daaraan te kon gehad het [gehad te kunnen hebben]. Wat ek daar gehoor en beleef het, het my opnuut [opnieuw] laat besef hoe ongelooflik verweefd die lotgevalle van Suid-Afrikaners eintlik is. Sonder mekaar kan ons nie, ten spyte van mekaar en desondanks wat ons aan mekaar gedoen het. Ek is onherroeplik deel van hierdie land en sy mense, God sy dank!13


[1] Met dank aan Chriss Wiegand, Koördineerder Dienste van die Eenheid vir Taalfasilitering en Taalbemagtiging van die UOVS vir sy hulp en insette asook statistiek rondom die tolkdiens by die WVK.

[2] Sien Becks (1992).

[3] Die volle verhaal rondom die totstandkoming en funksionering van die WVK is besonder goed geboekstaaf in The Report of the Truth and Reconciliation Commission (TRC 1998). 'n Interessante persoonlike en joernalistieke perspektief daarop is geboekstaaf in Antjie Krog se Country of my Skull (1998).

[4] Die oorgang na 'n demokratiese Suid-Afrika is van 1991 tot 1993 onderhandel by die World Trade Centre in Kemptonpark, 'n buurstad van Johannesburg, binne 'n forum genaamd CODESA (Convention for a Democratic South Africa). Die uiteinde van hierdie suksesvolle onderhandelings is die aanvaarding van die sogenaamde 'tussentydse' Grondwet (Wet 200 van 1993), die eerste demokratiese Grondwet vir Suid-Afrika. Hierdie Grondwet is ondertussen ingevolge afsprake by Kemptonpark vervang met die sogenaamde 'finale' Grondwet (Wet 108 van 1996).

[5] Die tussentydse Grondwet het bepaal dat die afsnydatum moes val tussen 8 Oktober 1990 en 6 Desember 1993, die tydperk waarbinne onderhandelings plaasgevind het. Uiteindelik is ooreengekom op 10 Mei 1994, 'n datum wat volg op die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.

[6] Sien ook my referaat, Tolking by die Waarheids- en Versoeningskommissie (Du Plessis 1997), wat ek in 1996 in Antwerpen aan die KVH gelewer het vir verdere besonderhede rondom hierdie tema.

[7] Wiegand (1998) se referaat getiteld, Role of the interpreter in the healing of a nation, bied 'n interessante perspektief op die tolke se hantering van die emosionele sy [kant, zijde] van die WVK-verhore.

[8] Barsky (1996) se volgende opmerking het hier betrekking: '(I)interpreters should be recognized for what they are, namely agents of culture rather than transmitters of words'.

[9] Ter verduideliking moet genoem word dat mense in die gehoor soms na die tolke se Engelse weergawe luister ofskoon hulle die vloertaal, bv. Xhosa, volg. Dit word meestal uit nuuskierigheid gedoen omdat simultane tolking in Suid-Afika natuurlik nog 'n nuutjie is.

[10] Hiervoor moes Paul Sinnaeve, 'n elektroniese ingenieur van Televic, ternouernood 'n spesiale klankverspreider ontwikkel, wat toe perfek gewerk het. Die hoof van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se uitsaaieenheid was vooraf besonder skepties oor die klankgehalte van die Televic-toerusting maar het binne enkele minute sy hoogste waardering daaroor uitgespreek.

[11] Sien AIIC (1998).

[12] Die tolkproduksie in Engels word ook getranskribeer, maar nie die vloertaal nie. Dit beteken dus dat daar op skrif geen oorspronklike rekord van die slagoffers en getuies beskikbaar is nie. Wel word die oorspronklike kassetopname saam met al die ander materiaal in die Nasionale Argief bewaar. Hierdie tekortkoming kan ernstige implikasies inhou vir verdere sake wat uit die verhore mag voortspruit en kan tot tallose dispute en legitasies aanleiding gee. Dit is uiteraard vir simultane tolke, en in hierdie geval semi-opgeleide en onervare tolke, onmoontlik om onder alle omstandighede 100% korrek te tolk. Dit wat dus in getranskribeerde vorm bewaar word as weergawes van wat deur getuies en slagoffers gesê sou gewees het, kan dus as onbetroubaar geag word. Daarom word voorgestel dat op hierdie punt verdere navorsing gedoen word om die korrektheid van die betrokke transkripsies te verifieer.

[13] Nederlandse vertaling tussen rechten haken: Pol Cuvelier.


Bibliografie

AIIC, Application of copyright to interpretation, International Association of Conference Interpreters, Geneve, 1998.

R.F. Barsky, 'The interpreter in convention refugee hearings' in The Translator. Studies in Intercultural Communication, 1996, 2(1), 45-63.

D. Becks, 'Simultaan tolkwerk. Een didactish perspectief' in R. Van den Broeck & E. Hertog (red.), Mens en machine in de vertaalopleiding, Fantom, Antwerpen, 1992, 143-153.

T. Du Plessis, 'Tolking en die Waarheids- en Versoeningskommissie' in A. Lotriet (red.), Colloquium gerechtstolken: Theorie, praktijk en opleiding. Katholieke Vlaamse Hogeschool, Antwerpen, 19 - 20 November 1996. Acta Varia 4, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein, 1997, 144-161.

L. Gibson & A. Gouws, 'Truth and Reconciliation in South Africa: Attributions for Blame and the Struggle Over Apartheid', unpublished Paper presented at the Annual Meeting of the American Political Science Association, Boston, 3-6 September 1998.

Antjie Krog, Country of my skull, Random House, Johannesburg, 1998.

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993, Republiek van Suid-Afrika (RSA), Pretoria, 1993.

Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening, No. 34 van 1995, Republiek van Suid-Afrika (RSA), Pretoria, 1995.

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, Republiek van Suid-Afrika (RSA), Pretoria, 1996.

The Report of the Truth and Reconciliation Commission, The Truth and Reconciliation Commission (TRC), Cape Town, 1998.

C. Wiegand, 'Role of the interpreter in the healing of a nation: an emotional view', Unpublished Paper presented at the Critical Link II Conference, Vancouver, Canada, 19-23 May 1998.

T. Winslow, 'Reconciliation: The Road to Healing? Collective good, individual harm?', in Track Two: Constructive Approaches to Ammunity and Political Conflict 6 (3&4), 1997, 24 ff.

© S T R E V E N