Verschenen in Streven, maart-april 2019

‘Van jou genees ek nooit’: Afrikaans en Nederlands
Antjie Krog en die Lae Lande

Annemarié van Niekerk *

In 2018 is De Gouden Ganzenveer aan die Afrikaanse skrywer Antjie Krog (1952) toegeken –

‘n prys wat jaarliks toegeken word ‘aan een persoon of instituut vanwege zijn of haar grote betekenis voor het geschreven en gedrukte woord in de Nederlandse taal.’ Krog het nog nooit in Nederlands geskryf nie en woon ook nie – soos Elisabeth Eybers wat in 1991 vir haar Afrikaanse poësie oeuvre die P.C.-Hooft prys ontvang het – in Nederland nie.

Destyds met Eybers (1915-2007) se toekenning is wenkbroue al gelig. Hoe is dit moontlik dat die belangrikste literatuurprys in die Nederlandse taalgebied toegeken word aan ‘n digter wat in Afrikaans skryf? Die toekenning is verdedig met die feit dat Eybers al sedert 1961 in Amsterdam woonagtig was en intussen deel geword het van die Nederlandse literêre sisteem. Die teenargument was dat sy, ten spyte van haar toe reeds 30-jaar-lange verblyf in Nederland steeds in haar eie taal geskryf het – ’n praktyk waarmee sy voortgegaan het tot en met haar dood in 2007. Dit was nie Eybers se enigste Nederlandse literatuurprys nie: in 1974 het sy ook die Herman Gorter-prys ontvang, en in 1978 die Constantijn Huygens-prys vir haar hele oeuvre.

Hoe kan hierdie verskynsel – Nederlandse literatuurpryse aan Afrikaanse literatuur – verklaar word?

Taal en geskiedenis

Die mees voor die hand liggende verklaring is die noue verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands, en dat die sprekers van hierdie twee tale – wat op 2 verskillende kontinente en 10.000 km van mekaar af woon – mekaar tog redelik maklik begryp. Hierdie verweefdheid het vier eeue gelede begin; daarmee saam het ook ‘n stuk gedeelde geskiedenis (wat so bietjie soos ‘n moeder-dogter verhouding lyk) ontplooi: ‘n wisselwerking tussen toenadering soek en dan weer afstand neem. Geen wonder, want Nederlands is natuurlik die moederbron waaruit Afrikaans ontwikkel het vanaf die tyd toe Nederlande skepe in die sewentiende eeu oppad na die Ooste die Kaap aangedoen het as halfwegstasie. Vars produkte moes aangevul word en siekes moes versorg word. Mettertyd het die VOC-verversingspos ‘n Nederlandse kolonie geword en die Nederlandse taal het wortel geskiet. Maar onder invloed van ander ‘vreemde tale’ aan die Kaap (Duits, Engels, Frans, Deens, Portugees en Maleis), asook die inheemse Suid-Nguni, en Khoi en San-tale, het Nederlands aan die Kaap gehibridiseer geraak en mettertyd losgegroei van die moederbron. Hoe verder die trekboere die binneland ingetrek het, hoe meer het die taal ‘n eie karakter, verbonde met die bodem van Afrika, ontwikkel. Teen ongeveer die begin van die 18de eeu het die unieke identiteit van Afrikaans alhoe meer sigbaar begin word, en teen die einde van die negentiende eeu was Afrikaans as gesproke omgangstaal reeds goed gevestig. Die tyd was ryp dat die taal ‘n skryftaal kon word en vanaf 1875 is daar ook daadwerklik mee begin. Vanaf 1875 is die benaming Afrikaans ook gebruik. Vir die taalstryders moes Afrikaans absoluut ‘n onafhanklike taal wees, ‘n taal wat geskryf word soos dit gepraat word – hierdeur sou sy eie karakter en onafhanklikheid van Nederlands bevestig word. ‘n Faktor wat ‘n groot rol in die Afrikaanse taalstryd (teen Nederlands en veral ook teen Engels, die taal van die nuwe kolonis) gespeel het was dat die Afrikaner ‘n eie identiteit wou vestig, en daardie identiteit moes met ‘n eie kultuur gepaard gaan. Daarvoor moes die taal sterk en op eie voete staan.

Soos wat dit dikwels tussen moeders en dogters gaan, het die gety kort voor lank gedraai. Die Afrikaner het besef dat sy eie status en dié van sy taal (wat dikwels nog ‘’n kombuistaal’ genoem is) verhoog sou word as hy op die rug van die eeueoue Nederlandse kulturele erfgoed kon meery. Daarvoor moes hy wel weer teruggryp na sy wortels. Dus, toe die eerste Afrikaanse Taalkommissie in 1921 tot stand gekom het, is die besluit geneem dat die Afrikaanse spelling en grammatika tog so naby as moontlik aan Nederlands moes bly – so kon die band bevestig word.

Van hieraf was die Afrikaner se taalbou-program nou verweef met sy nasiebou-program: die taal is gebruik as een van die belangrikste pilare van Afrikaner Nasionalisme. Die Afrikaner se obsessie om sy identiteit te vestig en te beskerm, sy kultuur te bou en bovendien rassuiwer te bly, het gou daartoe gelei dat bruin en swart sprekers van die taal van die wit Afrikaner vervreem is. Uiteindelik het Afrikaner Nasionalisme en die apartheidsideologie hierdie paadjie nog verder en gewetenloser uitgekap, en het Afrikaans in die tweede helfte van die twintigste eeu bekend begin staan as die ‘Taal van die Onderdrukker’. Moeder moes weer ingryp: Nederland het voor geloop in internasionale kritiek teen die heersende Nasionale Party en die Afrikaner se ontsporing, en ook aktief betrokke geraak by die anti-apartheidsbeweging en boikots teen Suid-Afrika. Tereg.

Dit dan ‘n kort samevatting van die genoemde historiese raakpunte. Dus, geen wonder dat as die Afrikaanse literatuur iets pragtigs oplewer (soos Eybers en Krog se poësie) die Nederlandse taal en letterkunde dit graag wil bekroon, selfs as ‘eiegoed’.

Hoe alles hier verandert

Krog se gewildheid in die Lae Lande het, behalwe vir die pragtige skryfsels (gedigte, prosa, essays en reportages) wat uit haar pen vloei, waarskynlik ook daarmee te make dat sy deur die jare heen nog altyd ‘n besonder eerlike, vreeslose en helder kommentator was van wat in Suid-Afrika gebeur het. Hoe alles hier verandert[1] – ’n bundel wat ter geleentheid van De Gouden Ganzenveer-toekenning verskyn het, met Krog se eie seleksie uit De kleur van je hart, Een andere tongval en Niets liever dan zwart – bied ‘n goeie oorsig van die sake wat haar na aan die hart lê. Gesprekke met familielede, vriende en onbekende passante, jeugherinneringe, briewe aan haar moeder en ‘n verslag van ‘n besoek aan haar geboortedorp Kroonstad en die plaas [boerderij] van haar familie, kom alles verby. Ingesluit is ook ‘n relaas van ‘n onderhoud [interview] met Nelson Mandela, wat heeltemal skeefgeloop het – ook hieroor is sy eerlik sonder skroom.

Dit word weer eens duidelik uit hierdie bundel: nooit sal Krog ’n konfrontasie ontduik nie, nie met ’n ander nie, maar ook nie met haarself nie. Sowel wit as swart bekyk sy met ’n skerp blik, maar net so goed is sy in staat om met empatie na elkeen se verhaal te luister en met aandag daarop in te gaan. So word dit vir haar moontlik om vlymskerp en glashelder te skryf oor die diep wonde wat kolonialisme en apartheid op die land en sy inheemse mense ingeënt het, maar ook hoe die wit mense littekens dra van onder andere skuld.

Krog huiwer nie om te skryf oor die teleurstellings ten opsigte van die ‘reënboognasie’ en die ‘nuwe Suid-Afrika’ nie, oor hoe wit mense dikwels nie meer veilig óf welkom voel in die land wat hulle voel ook hulle land is nie, hoe wit en swart gevange sit in ‘n situasie waarby verwyte heen-en-weer geslinger word en waardeur die land bly sleep aan die swaar las van sy geskiedenis. Vol passie leef sy haar in in Suid-Afrika se worsteling met sy eie geskiedenis en pogings om na soveel eeue van afstand en verwydering mekaar weer te probeer vind. Ewe eerlik as kwesbaar praat sy oor haar dubbele gevoelens:

‘Mijn keel voelt dik en verstoten, in mijn borstkas voel ik de pijn die te maken heeft met de onbeschrijfelijke intimiteit van ergens thuishoren en je ontheemd voelen. Dit is mijn plek. Een plek die mij eigenlijk nooit wilde hebben. Een plek die ik vergeefs heb liefgehad. Het veld. De hemel. De beken. Het gras en de bomen.’ (blz. 44-45)

Sy aarsel nie om verslag te lewer oor ’n diskussie met swart vriende wat haar konfronteer met haar afkoms nie; sy verdedig haarself met die argument dat ras die enigste ding aan jouself is wat jy nie kan verander nie. ‘Dus als je een probleem met mij hebt omdat ik blank ben, dan kan ik geen kant meer uit.’

Sy skryf ook oor die sensitiewe saak van die Afrikaner se Europese wortels waarvan hy nog steeds nie los is nie en wat ’n rol speel in sy opvattings, ingesteldhede en lewensbeskouing. So gaan ‘n paar stukke in ‘Hoe alles hier verandert’ oor ’n tyd wat sy in Duitsland deur gebring het en waar sy haar besonder tuis gevoel het, ‘n gevoel wat haar op sy beurt weer skuldgevoelens besorg het… skuld van verraad teenoor Afrika.

‘Wil ik wel terug? Kan ik wel terug naar Afrika, rot tot op het bot als ik geworden ben? Niet alleen is mijn huid blanker dan ooit tevoren, ook mijn verstand is blank. […]Wat is dat? Genieten van een punctuele bus, stipte treinen, een veilige omgeving, is dat blank? Niet geconfronteerd te worden met armoede, is dat blank? Te luisteren naar klassieke muziek en Europese literatuur te lezen, is dat blank? Ontroerd te worden zoals ik van mijn leven nog door niets ben ontroerd, lijfelijk geroerd, door de poëzie van Paul Celan, maakt dat mij blank?’ (blz. 236)

Krag van die boek

Die groot krag van hierdie boek is dat Krog, soos uit bostaande duidelik is, nie skroom om die ongemaklikheid van haar emosies duidelik voelbaar te maak nie – ook aan haar Nederlandse lesers vir wie sy hierdie stukke uitgekies het. Haar gepassioneerde prosa en beswerende poësie bring ook die magiese Suid-Afrikaanse landskappe van berge, ruwe oseane, semi-woestyn en subtropiese klimaat na haar Nederlandse leser, ook die aardsheid en gulheid en outentisiteit van die mense van die land (‘Hoe uitgestrekt, hoe radeloos mooi dit land is, en de kracht waarmee het gewoon zichzelf blijft.’ blz. 19). Maar ook die letsels wat die land opgeloop het sedert die Kaap gekoloniseer is, slawe ingevoer is en ’n ander taal en kultuur daarop ingeënt is – hierargieë gebasseer op ras en taal, totstand gebring deur onderdrukking, vernedering en verontmensliking. Krog laat niemand vergeet wat gebeur het en wat nou nog aan die gebeur is nie. Soms is dit nodig dat die dogter ook die moeder se herinneringe verfris. Is ook dit ’n rede waarom Nederland verknog bly aan Afrikaans en sy skrywers?

As Krog, op haar beurt verknog aan die plaas [boerderij] waar sy grootgeword het, na ‘n besoek aan Duitsland terugvlieg Suid-Afrika toe, kry sy ‘n konfronterende boodskap.

‘Terwijl ik me vastgesp aan mijn vliegtuigstoel licht op mijn mobieltje een sms’je op van mijn broer: de staat wil onze boerderij kopen met het oog op de herverdeling van grond. Ja of nee?
Het kleine vliegtuig stijgt op. Ik begraaf mijn gezicht in mijn handen.’ (blz. 8)

Die boodskap tref diep, want die grond waarop sy gebore is en waar sy groot geword het, is vergroei met haar siel:

‘Ik ben er langzaam achter gekomen dat er grond is die zich hecht in je ziel. Mijn voorouders behoorden tot de eerste zes Boere-families die zich langs de Valschrivier vestigden, lang voor de Grote Trek. Acht generaties al loopt mijn verhaal synchroon met dit dorp en deze rivier. […] Aan die oevers van deze rivier ben ik gevormd tot wie ik ben.’ (blz. 42)

Saam met haar man gaan sy terug na haar geboortegrond.

‘Ik heb met hartstocht over deze boerderij geschreven. Geen ander seizoen kan mijn woorden helen. […] Mijn hele wezen hangt ervan af, hangt eraan vast […]. Met mijn hand maak ik een spoor in het water. Mijn man kust mijn hals. ‘Jij brengt me altijd terug…,’ fluistert hij en de rimpels in zijn stem zijn bewegingloos, ‘en van jou genees ik nooit.’ (blz. 22-23)

 

 

[1] Antjie Krog, Hoe alles hier verandert, uit het Afrikaans vertaald door Robert Dorsman, Podium, Amsterdam, 2018.